Eerste bakterie met weerstand gevind

Wetenskaplikes in die Verenigde State van Amerika het die eerste “super bakterieë” ontdek wat nie gedood word deur die bestaande antibiotika nie.

Die ontdekking is gemaak by ’n 49-jarige vrou van Pennsilvanië wat ’n seldsame infeksie opgedoen het en wat deur dr. Tom Frieden bestempel is as ’n “nagmerrie bakterie”.

Daar is reeds verskeie kere deur dokters ondervind dat hulle sekere toestande wat normaalweg met verskillende antibiotika gesond gemaak kan word, nie meer suksesvol kan behandel nie.

Die dokter het ontdek dat die bakterie, wat karbapenem-weerstandige enterobacterie genoem word, bestand is teen enige bekende vorm van antibiotika.

Dit is nie bekend hoe die vrou besmet geraak het met die bakterie nie, en gevolglik mag sy nie buite die VSA reis nie uit vrees vir verspreiding van die besmetting.

Intussen is vasgestel dat die bakterie reeds aangetref is in Brittanje, Italië en Sjina.

Wetenskaplikes sê ’n alternatief vir antibiotika moet baie gou ontwikkel word om ’n grootskaalse sterftes te voorkom.

Pasiënte word nou deur navorsers aangeraai om hul geneeshere te versoek om eerder ’n alternatiewe medikasie voor te skryf waar dit enigsins moontlik is, en sover moontlik antibiotika vermy.