E-VW bou dalk eie batterye

Bewerings word gemaak dat Volkswagen dit oorweeg om sy eie battery-aanleg op te rig vir sy elektriese voertuie om daarmee minder afhanklik te raak van vervaardigers in Asië.

Met ’n neiging by motorvervaardigers om geleidelik oor te skakel na elektriese voertuie ter vervanging van die binnebrand model, kan die battery vervaardiging ’n belowende en winsgewende bedryf word.

’n Woordvoerder het later gesê die oprigting en in bedryfstelling van so ’n vervaardigingsaanleg kan soveel as 10 miljard euro beloop.

Indien so ’n nywerheid oprig gaan word, blyk dit dat die beste plek in Laer Sakse sal wees, maar so ’n ondersoek kan nog baie lank duur.

Volkswagen meen so ’n nywerheid kan die vervaardiger nie net minder afhanklik maak van die vervaardigers in Asië nie, maar kan ook ’n beduidende bydrae maak om werksgeleenthede te skep.

Die vervaardiger meen ook dat beter gehalte batterye vervaardig kan word, wat weer ’n nuwe mark kan beteken van ander vervaardigers.

Talle potensiële kopers van elektriese motors word afgeskrik as hulle die prys van die voertuie hoor, en dan verneem dat die batterye se vermoëns nie aan die verwagtinge voldoen nie.

Volkswagen mik daarna om saam met sy filiale, Audi en Porsche, binne tien jaar sowat een miljoen voertuie per jaar te vervaardig.