Dwelmhuis oorkant skool uitgeskud

Dwelms en chemikalieë van sowat R20 miljoen is tydens ‘n klopjag by ‘n huis oorkant ‘n laerskool in Alberton gekry.

Die polisie en die Valke se eenheid teen georganiseerde misdaad het op die huis oorkant die Glenview Primary School in Brackenhurst toegeslaan.

‘n Laboratorium is in die huis ingerig waar die dwelms vervaardig is, en daar is onder meer op metamfetamien beslag gelê.

Metamfetamien word beskou as een van die mees verwoestende dwelmmiddels wat in omloop is.

Van die bure het die doen en late by die huis, wat drie jaar gelede deur die huidige inwoners betrek is, as baie vreemd beskou.

Twee Nigeriërs is in hegtenis geneem en sal na verwagting in die Palm Ridge-landdroshof verskyn.