Duitse politiek raak deurmekaar

Die gematigde Christen Demokratiese Unie (CDU) van kanselier Angela Merkel het ’n koalisieregering aangegaan met die linkse Groen party in die Duitse deelstaat Baden-Württemberg.

 

Die CDU sal as junior vennoot in die linkse Groen party se regering optree in ’n poging om die konserwatiewe Alternatief vir Duitsland (AFD) uit die regering te hou.

 

Die gesprek tussen die Groenes en Merkel se party het gestrek oor etlike maande voordat ’n ooreenkoms bereik kon word.

 

Politieke waarnemers in Duitsland sê dit is ’n uiters vreemde koalisie waar Merkel se gematigdes met die uiters linkse Groenes moet saamwerk, veral omdat haar CDU selfs bereid is om ’n ondergeskikte rol te vervul.

 

Vyf ministers sal vir elk van die twee partye aangewys word waarvan die name later bekend gemaak sal word.

Die twee partye het met die aankondiging gepoog om die kalklig te steel van die konserwatiewe AFD wat die naweek ’n kongres in die deelstaat gehou het.

 

Later is verneem dat CDU-ondersteuners erg besorg is oor die koalisie wat met die verlinkse Groenes aangegaan is.