Drinkwater is glad nie skoon nie

Suid-Afrika se drinkwater is glad nie so skoon soos wat die meeste mense dink nie.

Kundiges waarsku ons water word nie behoorlik gesuiwer nie en word toenemend besoedel met enigiets wat wissel van riool tot medisyne.

Alhoewel die versekering oor en oor gegee word dat Suid-Afrika van die beste drinkwater in die wêreld het, is dit eintlik glad nie waar nie.

Die Verenigde Nasies se omgewingsprogram het Suid-Afrika se water 47ste uit 122 lande gereken, maar dit was bykans 15 jaar gelede.

Die suiwering van drinkwater het drasties agteruitgegaan, want na raming werk 40% rioolaanlegte nie behoorlik en moet dringend herstel word.

Die Vaaldam verskaf water aan miljoene mense, maar volgens aktiviste vloei talle riviere daarin waarvan die waterkwaliteit nie getoets word nie.

Navorsers het verlede jaar water in hoofstede regoor Suid-Afrika getoets en spore van 34 soorte medisyne en plaagbeheermiddels daarin gekry.

Daar is ‘n sterk moontlikheid dat ons drinkwater ‘n stadige ramp is wat besig is om te ontvou en dat die probleem nie waargeneem word nie totdat dit te laat is.