Drie ligte vliegtuie val in twee dae

In die derde vliegongeluk binne twee dae is ‘n vlieënier oorlede en sy passasier het oorleef nadat hulle vliegtuig sowat ‘n kilometer van die Kitty Hawk-vliegveld oos van Pretoria neergestort het.

Dit het volgens personeel by die vliegveld gelyk asof Abel Pienaar se vliegtuig nie eintlik hoogte kon bereik nadat dit opgestyg het nie. Die vermoede bestaan dat die enjin uitgesny het en hy probeer het om ‘n noodlanding uit te voer.

Pienaar, ‘n ingenieur, en Christo van der Wath, ‘n veiligheidsbeampte, was onderweg na Mooketsi in Noord-Transvaal om ‘n dam op die ZZ2-tamatieplaas te bou.

Nóg ‘n bekende vlieënier het onderweg na Kaapstad omgekom toe sy ligte vliegtuig in die Herbertsdale-omgewing naby Mosselbaai neergestort het. Die 51 jarige Keith Patterson was ‘n ervare vlieënier en was vroeër ook ‘n vlieginstrukteur.

In ander vliegongeluk vandeesweek het twee mense ligte beserings opgedoen toe hulle ligte vliegtuig by Midrand naby die plaaslike vliegveld geval het.

Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid stel ondersoek in na die ongelukke.