Derduisende kyk na video oor arrestasie

‘n Video, waarna derduisende mense al op sosiale media gekyk het, toon hoe ‘n blanke man deur ‘n klomp swart metropolisielede uit sy silwer motor getrek word.

 

Die videomateriaal van die voorval is deur ‘n verbyganger, Francois Nel, geneem en toon hoe die man onder meer gedurig vra waarom hy in hegtenis geneem word, maar geen antwoord op sy vraag kry nie.

 

Die voorval het op die hoek van Dale- en Modderfonteinweg in Midrand plaasgevind nadat die man vir roekelose bestuur gestop is deur ‘n metropolisielid wat in ‘n ongemerkte voertuig was, volgens ‘n woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, Wayne Minnaar. Die man het glo ook tekens gewys en die k-woord gebruik.  Hy sou dan ook ‘n superintendent met ‘n motorsleutel in die nek gesteek het, het Minaar gesê.

 

Sowat 20 mense het die voertuig omring toe hy op die toneel opgedaag en gehoor het die man word daarvan beskuldig dat hy die k-woord gebruik het, het Nel vertel.

 

Die videomateriaal (met die titel: ‘On what grounds?’) wat Nel via sy selfoon opgeneem en op sy bakkieblad geplaas het, toon hoe die man se vuurwapen verwyder word omdat hy weerstand teen inhegtenisname sou bied. Hy het ook ontken dat hy die k-woord gebruik het.

 

Volgens Nel het die metropolisie op geen stadium gesê waarom hulle die man in hegtenis neem nie, en het hom slegs in die motor gelaai.

 

Teen vanoggend het meer as 16 000 mense al na die video gekyk en is dit al meer as ‘n 1 000 keer gedeel.