Dagbreek Trust begin veldtog vir Afrikaanse mense

n Nuwe webtuiste, Afrikaans.com, is deur Dagbreek Trust bekend gestel met die motivering Afrikaans is polities onder druk en die tyd het aangebreek vir almal wat lief is vir die taal om saam te werk om haar toekoms te verseker.

Die voorsitter van Dagbreek Trust, dr. Theuns Eloff, het met hierdie woorde die webtuiste en ‘n bemarkingsveldtog om die taal, “Veldtog Afrikaans”, te bevorder aan sy gehoor voorgehou.

Aldus ‘n nuusverklaring van Afrikaans.com is die webtuiste spesifiek geskep om die taal se talle gedaantes te vier en sal dien as ‘n plek waar Afrikaanse mense die taal “in haar volheid kan verken”.

‘n Veldtog gaan op Afrikaans.com gevoer word onder die vaandel van, “Hoe lyk jou Afrikaans?”, en sal in die nasionale media verskyn. Mense sal as deel daarvan vanaf 1 Junie kan vertel hoe hul Afrikaanse wêreld daarna uitsien.

‘n Hele mediaveldtog ter bevordering van “Hoe lyk jou Afrikaans” sal deur buitelugborde, asook redaksionele en advertensieblootstelling op televisie en radio en in die gedrukte media gevoer word.

Van die beskermhere van die projek is die digters Adam Small en Breyten Breytenbach, die akademikus prof. Debra Meyer, die hoof van die Solidariteit-beweging Flip Buys, die joernalis Tim du Plessis, Izelle Venter van Media24, die historikus prof. Hermann Giliomee, en die besturende direkteur van die ATKV, Japie Gouws,.

In ‘n meningsartikel getiteld, “Stigting van Dagbreek Trust”, is op 1 Januarie 2014 in Die Vryburger die verhaal van die betrokke Trust vertel, en in besonder hoe dit na die dood van dr. HF Verwoerd “die Afrikanersaak versaak” het.

Bepaalde “Afrikaanse mense” het klaarblyklik in die verwordingsgeskiedenis sedert dr. Verwoerd se moord volksidentiteit op die altaar geplaas in ruil vir taal as die groot gelykmaker.