Chinese stroop vis in Oos-Kaap

Drie Chinese vistreilers is in die Oos-Kaap vasgetrek met tjokka ter waarde van altesaam sowat R70 miljoen wat hulle gestroop het.

Die vistreilers het probeer om te ontvlug, maar is met behulp van die vloot en die department van landbou, bosbou en visserye aangekeer en na die hawe in Oos-Londen begelei.

Die bemanning is per radio verwittig dat hulle na die hawe moet vaar, waarna hulle probeer het om te ontvlug, maar is agtervolg en uiteindelik aangekeer.

Amptenare het 400 ton tjokka aan boord van twee van die Chinese vistreilers, en 200 ton op die derde treiler gekry.

Verlede week is nege Chinese vistreilers naby Port Edward in ’n konvooi suidwaarts na die Oos-Kaap in die rigting van Bird-eiland opgemerk.

Een van dié treilers is naby Kaapstad aangekeer terwyl die ander agt weggelip het en buite Suid-Afrika se gebiedswaters geskuil het.