Brussel se verlies weens terreuraanval

Die gevolge van die aanslag op 22 Maart deur die Islamitiese Staat (IS) op die lughawe in Brussel het benewens die enorme skade aan die geboue, ook ’n reuse verlies aan inkomste teweeggebring.

Die lughawe wat vir weke gesluit was om opruiming te doen en die beskadigde strukture te herstel, het ’n verlies aan omset van nagenoeg 90 miljoen euro teweeggebring.

Die inligting is vrygestel deur die hoof uitvoerende beampte, Arnaud Feist, van die Brussel-lughawe tydens sy besoek aan Toronto, Kanada.

Die vertreksaal van die lughawe was op 22 Maart in chaos gedompel toe terroriste twee bomme laat ontplof het wat tientalle mense gedood het en baie meer beseerdes in hospitale laat beland het.

Minstens twee van die terroriste is aangekeer, maar die owerheid van Brussel is skerp gekritiseer oor hulle veiligheidsmaatreëls.

Geen berekenings kon gemaak word van wat die stad se sake-ondernemings se verliese was weens die sluiting van die lughawe nie.