Brasilië, die politieke kookpot

In die afgelope maande was Brasilië die kookpot van politieke stryd wat die een wenner na die ander opgelewer het, en wat uiteindelik almal verloorders geword het.

Die politieke krisis het nou ontaard in ’n aaklige gejag op mekaar en die strydgenote van gister het vandag die stryders teen mekaar geword.

Aanvanklik is president Rousseff daarvan beskuldig dat sy by korrupsie betrokke was, en uiteindelik is sy deur die regte prosedure te volg, vir 180 dae geskors en moes sy die presidentskantoor ontruim.

Daarna is ’n tussentydse president aangewys wat sy eie kabinet saamgestel het om vir die tydperk te regeer.

Slegs ’n maand later is ’n bandopname gevind waarin kabinetslede gesê het hulle moet ontslae raak van president Rousseff en die ondersoeke na korrupsie moet gekeer word.

Nou blyk dit dat daar drie moontlikhede is vir Brasilië.

President Dilma Rousseff keer terug na haar amp as president en die land gaan voort soos voorheen,

Of die huidige waarnemende president Temer maak asof niks gebeur het nie, en gaan voort terwyl die land in onrustigheid bly.

Of die land hou ’n nuwe verkiesing en stem vir ’n nuwe regering wat, korrup is of nie, die land regeer.

Hoe dit ook al is, die land wat in oppervlakte gemeet, die vyfde grootste land ter wêreld is, verkeer in ’n ernstige politieke krisis.

Indien ’n verkiesing nie gehou word, en nuwe leiers nie na vore kom wat sonder geraamtes is nie, gaan Brasilië se kiesers hulle land se krisis verder vergroot.

Jan de Beer