Boere wen hofsaak oor paaie

In ‘n waterskeidingsuitspraak is ten gunste van Oos-Kaapse boere beslis dat die provinsie se paaie deur die verantwoordelike departement onderhou en herstel moet word.

Die uitspraak in die hooggeregshof in Grahamstad ten gunste van Agri Oos-Kaap en nege applikante kan daartoe lei dat elke provinsie in die land die Oos-Kaap se voorbeeld volg om te verhoed dat boere skade ly weens die haglike paaie, het die landbou-organisasie se president, Douglas Stern, na die hofverrigtinge gesê.

Regter J. Smith het in sy uitspraak beveel dat die LUR vir paaie en openbare werke en die direkteur-generaal van dieselfde departement binne 30 dae ’n verslag aan die hof moet voorlê waarin hulle presies aandui hoe en wanneer die hele herstel- en instandhoudingsproses van die paaie sal geskied.

Die saak is tot 18 Augustus 2016 verdaag vir die oorweging van hierdie verslag. Die applikante sal 30 dae gegun word ná ontvangs van die verslag om daarop te reageer.

Die huidige agterstand met onderhoud en herstelwerk van die paaienetwerk in die Oos-Kaap beloop tans sowat R25 miljard.