Biltong-jagters steier weens koste

Die beroepsjagters wat spesifiek ingestel is om te jag vir biltong, moet deesdae die rieme dunner sny omdat hulle al minder jagtogte moet onderneem weens die stygende koste.

Die biltongbedryf wat reeds ’n jaarlikse R10 miljard merk verbygesteek het, sukkel om die stygende uitgawes van die bedryf te absorbeer.

Die inligting is deur die SA Biltong Jagters in hulle 2015-jaarverslag vermeld wat onlangs vrygestel is.

Die jagters se uitgawe het met sowat R20,000 gestyg oor die afgelope twee jaar, waarvan die prysstyging in die wild wat gejag word, nie ingesluit is nie.

Dit verklaar glo waarom die prys van wildsbiltong dramaties gestyg het oor die afgelope twee jaar.

Dit is nie bekend wat die volume biltong is wat jaarliks uitgevoer word na ander lande nie, maar dit is bekend dat ’n paar duisend kilogram jaarliks gestuur word aan familie wat elders in die buiteland woon en werk.