Bekyk komplot teen OB vra partye

Verskillende politieke partye eis dat ‘n dringende ondersoek moet gedoen word na die beweringe oor ‘n sameswering om die openbare beskermer, Thuli Madonsela, om die lewe te bring.    

Veiligheidsmaatreëls is opgeskerp nadat Madonsela ‘n wenk gekry het dat daar ‘n komplot is om haar van die gras te maak in ‘n opgestelde motorongeluk.

‘n Wes-Kaapse bendeleier het glo R740 000 vir die doel beskikbaar gestel, aldus ‘n informant wat haar ingelig het.

Madonsela was tot dusver nie altyd baie gewild by Zuma en die ANC nie vanweë ondersoeke wat sy oor vergrype soos in die geval van Nkandla gedoen het nie.