ANC-bestel wil grond vinniger verdeel

Die ANC beoog om sy herverdelingsprogram van grond aansienlik te bespoedig met die oog op die komende plaaslike verkiesing.

Ekonome en die landbousektor sien die gevaarligte flikker oor die plan omtrent grondplafonne wat weer opgeduik het.

Die perk vir kleinskaal plase is glo ‘n 1 000 hektaar en die grootste wat toegelaat sal word, is 12 000 hektaar, aldus die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti.

Indien ‘n kleinskaal plaas 1 400 hektaar is, sal die staat volgens Nkwinti 400 hektaar koop om aan swartes te herverdeel en ‘n 1 000 hektaar vir die boer laat.

Ekonome en landbou-organisasies het gewaarsku dat die voorstelle beleggings en produksie sal raak op ‘n tydstip wat Suid-Afrika probeer herstel van ‘n groot droogte en die land se kredietgradering op ‘n mespunt is.

Beswaar is ook gemaak oor die ondeursigtigheid oor hoe die plan sal werk.

Nkwinti het die plan weer op die voorgrond gestoot tydens ‘n seremonie waar president Jacob Zuma ‘n tjek oorhandig het ter viering van ‘n skikking van grondeise deur swartes in die Krugerwildtuin. Ses gemeenskappe sal in hierdie fase altesaam R84 miljoen ontvang vir grondeise in die Krugerwildtuin.

Die Wetsontwerp op Grondeiening is ook verlede week deur die Raad van Provinsies goedgekeur en kort net nog Zuma se handtekening om as ‘n wet bekragtig te word.

Hiervolgens kan eiendom deur die staat onteien word teen ‘n vergoeding wat insgelyks deur die ANC-bestel vasgestel is.

Die begrip, eiendom, is ook nie in die wetgewing omskryf nie en kan enigiets met inbegrip van intellektuele eiendom insluit.