Amok op US-kampus oor hut

Betogende studente van Stellenbosch Universiteit moes met skokgranate deur die polisie verdryf word toe hulle nie ‘n plakkershut op die kampus wou verwyder nie.

Hierna het die klippe gereën op die polisie tydens ‘n amokmakery oor die afdanking van 150 werkers verlede jaar ná betogings oor die uitkontraktering van werkers.

Die betogers het die plakkershut op die Rooiplein van die kampus opgerig om beswaar te maak teen die afdankings. Hulle is egter per brief in kennis gestel om die onwettige struktuur teen 14:00 gistermiddag te verwyder.

Toe die studente hulle nie daaraan gesteur het nie, het ‘n hele relletjie ‘n uur later losgebars.

Volgens die US was die werkers nie verbonde aan die instelling nie, maar is afgedank deur die private maatskappy waarvoor hulle gewerk het.

Die studente beoog om die hele week te betoog om die werkers heraangestel te kry, terwyl US-werkers van voorneme is om Stellenbosch in ‘n lokasie te omskep om hulle sin te kry.