Alberta se brande verdubbel

Die brande in die deelstaat Alberta, Kanada het die afgelope naweek sodanig uitgebrei dat brandbestryders meen dit het meer as verdubbel teenoor wat nog verlede Donderdag die geval was.

Die stad Fort McMurray, wat in die ryk olievelde geleë is, het intussen leeggeloop van inwoners wat inderhaas moes vlug vir hulle lewens.

Vrydag was daar nog sowat 1 500 voertuie wat stadig kon beweeg, maar verkeersowerhede kon die voertuie in groepe van 50 voertuie laat beweeg om deur die gevaarlike sones te kom.

Groot rookwolke het verhoed dat motors veilig deur die rook kon beweeg en verkeersbeamptes het met moeite beheer toegepas, terwyl die passasiers gevra is om kledingstukke voor hulle monde en neuse te hou om die minimum rook in te asem.

Meer as 160,000 hektaar is reeds deur die allerverskriklikste brande vernietig, en brandbestryders maak bykans geen vordering in hulle stryd nie.

In die stad het helikopters sowat 3 000 inwoners na veiligheid geneem, terwyl etlike duisende woonhuise en ander geboue reeds tot op die grond afgebrand het met alles wat binne was.

Sterk wind jaag die verwoestende vlamme deur die digte woude wat bestryding bykans onmoontlik maak vir die sowat 145 helikopters en 22 waterdraende vliegtuie.

Die brandbestryders, wat reeds meer as 1300 mense is, en met ’n magdom toerusting op die grond stry, het moeite om weg te bly van die lekkende vuur wat deur die wind aangejaag word.

Mense is biddend dat reën die vure sal blus wat nou verwoesting saai in die westelike deel van Kanada.

’n Woordvoerder sê die brande het onder meer veroorsaak dat sowat 1 000 vate olie minder geproduseer word elke dag.

Die brande wat op 50 verskillende plekke woed, sal nog etlike weke duur as reëns nie uitkoms bring nie.

Alberta se Premier Rachel Notley sê die stad is nie veilig nie, en sal nog lank ’n onveilige gebied wees.

Tot op hede word die versekeringseise beraam op meer as $7 miljard wat dit waarskynlik die grootste aantal eise is wat nog in Kanada aangeteken is.