Afrikaanse enkelmedium skole kry doodskoot

Dit is veral enkelmedium Afrikaanse skole wat geteiken sal word deur die Sentraal-Transvaalse onderwysdepartement na ‘n pasafgelope hofsaak ingevolge waarvan die magte van die betrokke owerheid aansienlik uitgebrei is.

Die konstitusionele hof se uitspraak het beslis die provinsie se LUR, Panyaza Lesufi, het wél die mag om voedingsgebiede van skole vas te stel, en sal gevolglik die plasing van anderstalige leerlinge kan afdwing.

Die uitspraak magtig die provinsiale departement om te besluit wanneer ’n skool “vol” is en leerlinge daar te plaas tot dié punt bereik word.

Een van die verskonings wat gebruik word, is dat daar ‘n nypende tekort aan skole is. Die versuim om te voorsien aan die behoeftes van leerlinge wat sogenaamd Engels is, is egter ‘n versuim van die provinsiale regering. ‘n Beduidende deel van  Sentraal-Transvaal se onderwysbegroting is jaar-na-jaar vir infrastruktuur geoormerk, maar daar word eenvoudig nie nuwe skole gebou nie.

Enkelmedium Afrikaanse skole sal ingevolge die hofuitspraak geforseer word om hierdie “Engelse” leerlinge te absorbeer, en sal in die proses sogenaamd dubbelmedium of parallelmedium skole word.

Die sogenaamde “bemiddelde” skole, en spesifiek Afrikaanse skole wat Lesufi in die visier het, sal sodoende die kreeftegang gaan namate bepaalde leerlinge se ouers liewers ander opsies kies soos volksgerigte skole, privaatonderwys of tuisonderrig.

Uiteindelik sal daar geen enkelmedium Afrikaanse staatskole in die provinsie oorbly nie.