Valsjasmyn / Gelsemium sempervirens

Valsjasmyn is ‘n rankplant in die familie Gelsemiaceae en kom redelik wyd versprei voor reg oor die wêreld. Dit staan ook bekend as die geel jasmyn en die trompetblom.

 

Hierdie plant is ‘n ligte, lugtige klimop met kleinerige blinkgroen blare. Die plant dra die pragtigste tregtervormige geel blomme in die laatwinder. Die blomme hang in massas aan die plant. Hierdie geel blomme word tot 2,5 cm lank en ruik heerlik. Wanneer hulle blom ruik die hele tuin na jasmyn.

 

Valsjasmyn is maklik om te kweek en is ideaal om heinings en boë te bedek en verkies son. Dit kan dalk nodig wees om dit liggies te snoei om dit onder beheer te hou. Dis redelik bestand teen koue, maar waar swaar ryp voorkom kan dit skadelik wees vir die plant.

 

Die plant rank tot 6 meter hoog in bome en op heinings. Die blare is immergroen en spitsvormig en dit word 5 tot 10 cm lank en 1 – 1½ cm breed en is donkergroen en welig.

 

Volgens bronne is hierdie hele plant giftig, u moet seker maak dat u met handskoene aan werk en was die hande goed met seep en water. Die sap van die plant kan velirritasies veroorsaak. Sommige mense verwar hierdie valsjasmyn met “honeysuckle”. Daar word beweer dat die nektar van die blomme selfs giftig is vir heuningbye maar hommelbye is nie allergies daarvoor nie.

 

Ten spyte van die waarskuwings dat die plant giftig is, is dit nogtans ‘n aanwins om in die tuin te plant. Die blomme is die grootste beloning en so ook die heerlike aroma wat veral in die laatmiddag in die tuin sal hang.

 

Tuiniers geniet u tuin in April.