Motor rubriek

BMW 318 a/t (Luukse Pakket)

 

In Januarie 1984 is die eerste BMW 3-reeks motor in SA bekendgestel. Sedertdien het die 3-reeks een van die bekendste BMW motors op die pad geword. Die jongste motor vir 2016 het verskeie veranderings ondergaan. Onder andere word daar nou gebruik gemaak van ‘n 1499 kubieke sentimeter, 3-silinder inlyn, dubbel oorhoofse nokas, 12 klep, turbo aangejaagde kragbron.

 

Wanneer daar na die tegniese spesifiekasies gekyk word dan besef ‘n mens die Ingenieurs by BMW het hulle huiswerk deeglik gedoen. Daar sal eintlik verwag word dat die 3-silinder kragbron se werkverrigting nie dieselfde sal wees as die 4-silinder kragbron nie. Die werkwerkverigting is bykans dieselfde. Die teendeel is egter waar. Daar is selfs ‘n verbetering te bespeur. Sedert daar meer gebruikgemaak word van turbo tegnologie is dit moontlik om die werkverrigting van ‘n 3-silinder enjin tot op ‘n hoër vlak te bring as in die verlede.

 

Met die jare het die voertuigbou aansienlik verbeter. Die nuwe motor is steeds ‘n goeie gesinsmotor. Wanneer daar meer krities gekyk word dan is dit opmerklik dat daar verskeie besparende maatreëls in werking gestel is. Voorheen is daar gebruik gemaak van gasgevulde stutte vir die kattebak deksel. Nou word daar gebruik gemaak van skarniere. Die sitplekke is dunner en platter en nie baie gerieflik nie. Daar is weggedoen met die verskillende stellings op die voorste sitplekke. Daar is nou slegs twee verstellings. Andersins is daar min kritiek te lewer op die binne-afwerking.

 

Aan die pluskant is daar nou ten volle onafhanklike suspensie, geventileerde skywe vir die remme met ABS ondersteuning vir die voor en agterwiele, dinamiese traksiebeheer, rembeheer vir in die draaie, dinamiese rembeheer, reën geaktiveerde windskermveërs, outomatiese hooflig verstelling funksie, ses lugsakke,elektriese kragstuurhulp en ‘n banddruk aanduiding meter.

 

Die model wat onderhande geneem is was met die “luukse pakket” toegerus waarvoor ‘n bykomende R22,800 opgedok moet word. Dit bestaan uit leerbedekte sitplekke, leerbedekte drie speek stuurwiel en fyn binne houtafwerking.

 

Wanneer daar terug gekyk word na 1984 motor en die tegniese spesifikasies word vergelyk, dan besef ‘n mens waar die verskil in kom. Vandag se motor ontwikkel 100 kW vanaf 4400 tot 6000 o.p.m. teenoor 92 kW by 5800 o.p.m. van die vorige motor. Die 2016 motor ontwikkel 220 Nm tussen 1250 en 4300 o.p.m. terwyl die vorige motor 170 Nm teen 4000 o.p.m. verskaf het.

 

Die toetsmotor was toegerus met die 8 spoed ZF8HP outomatiese ratkas waarvan die oorskakeling seepglad verloop. Dit is ook verkrygbaar met ‘n 6 spoed handratkas. Padgedrag is nog steeds van hoogstaande gehalte en dit kan aanbeveel word dat u die motor vir ‘n toetsrit neem.