Masedonië sluit migrante roete

Chaos heers in die Europese lande nadat Masedonië besluit het om die deurgang te sluit wat lei na die Balkan-roete vir onwettige migrante.

Die land sluit aan by die besluit van die Balkanlande wat die afgelope tyd volstrek geweier het dat onwettige migrante deur die Balkan-roete beweeg na ander Europese lande.

Benewens die sowat 500 migrante wat nou nie weet waarheen om te gaan nie, en in ’n strook niemandsland is, word derduisende migrante verhinder om die roete te gebruik.

Die migrante wat in die niemandsland is, weier om na Masedonië terug te gaan, en word dus vasgevang in die strook waar niemand hulle tot hulp kom nie.

Kroasië, Slovenia en Serwië het reeds hulle grense gesluit vir migrante wat op die Balkan roete wou deurgaan na die weste van Europa.

Die lande is dit eens dat streng grensbeheer nodig is om terrorisme te voorkom, en Kroasië se Minister van Binnelandse Sake sê geen uitsonderings gaan gemaak word nie, en die meer as 400 migrante wat in die land se kamp is, sal teruggestuur word na Griekeland waarvandaan hulle kom.

In reaksie op die besluit van die Balkanstate se regerings, het Bondskanselier Angela Merkel gesê dit is ’n terugslag vir die hele Europa.

Die Europese Unie se president Donald Tusk het vroeër erken dat strenger beheer oor instroming noodsaaklik geword het.

In Griekeland is sowat 40,000 onwettige migrante gestrand omdat hulle nie deurgelaat word om die Balkan- roete te gebruik nie.