Japan vang honderde walvisse

Ondanks die internasionale oproepe wat gerig word om vangste van walvisse te stop, het die Japanse walvisvloot teruggekeer met 332 dwerg walvisse wat gevang is.

Van die groot aantal visse is minstens 230 van die vroulike geslag en daarvan was 90 persent dragtig.

Ingevolge die Internasionale Geregshof se uitspraak in 2014 word bepaal dat Japan die vangs van walvisse moet staak.

Die “Greenpeace” organisasie is al jare in ’n hewige stryd gewikkel om die omstrede walvisvangste van Japan te probeer stop, maar dit blyk dat al die metodes wat toegepas is, van weinig waarde is.

Volgens die onlangse waarnemings steur Japan hom hoegenaamd nie aan die bepalings van die Wêreldhof nie, en gaan ongestoord voort met vangste, te midde daarvan dat wetenskaplikes bevrees is dat walvisse ’n bedreigde spesie word.

Voorheen het Japan tot ’n duisend walvisse gevang, en het die land se wetenskaplikes nog altyd beweer dat die vangste bedoel is vir wetenskaplike navorsing.

Japan beweer ook dat deel van die navorsing behels om vas te stel hoe oud walvisse word.