IS terroriste nog baie aktief

In ’n selfmoord bomaanval deur die Islamitiese Staat (IS) is 30 mense gedood en sowat 60 ernstig beseer in ’n park in die Irakse stad Iskandariya.

Die terroris het ’n gordel gepak met plofstof aan hom gehad toe dit ontplof het in die nabyheid van die mense in die park.

Die inligting is deur die stad se polisiehoof bekend gemaak, wat ook gesê het die ontploffing is uitgevoer terwyl ’n aantal mense ’n amateur sokkerwedstryd bygewoon het in die park.

Die terroris het gewag tot die wenners deur die burgemeester geluk gewens is en ’n trofee aan hulle oorhandig is.

Die burgemeester is een van die slagoffers wat omgekom het saam met verskeie spelers.

Later het die IS-terroriste verantwoordelikheid aanvaar vir die ontploffing.

Kort na die aanval het Amerikaanse vegvliegtuie met hewige lugaanvalle begin en is Abdelrahman al-Qadouli, wat as tweede in bevel van die IS-magte is, gedood saam met verskeie ander terroriste offisiere.

Die inligting wat deur ’n TV nuuskanaal bekend gemaak is, is later deur die Amerikaanse Minister van Verdediging, Ash Carter bevestig.

Volgens Amerikaanse woordvoerders was die terroris die mees gesoekte een wat sedert 2012 nie vasgetrek kon word nie.

Kenners wys daarop dat die stelselmatige uitwissing van terroriste leiers besig is om vrugte te lewer, want talle vegters het sedertdien begin dros uit vrees vir die lugaanvalle.