FBI geveg met Apple onsinnig

Die stryd tussen die Amerikaanse FBI en die Apple maatskappy blyk ’n onnodige geveg te wees volgens die fluitjieblaser, Edward Snowden.

Snowden, wat die ganse Amerikaanse veiligheidsdiens in ernstige verleentheid gebring het toe hy amptelike geheime dokumente versprei het van spioenasie wat in ander lande uitgevoer is, het nou weer die FBI in ernstige verleentheid gebring.

In ’n amptelike verklaring wat in die media gepubliseer is, sê Snowden die FBI se eis dat die Apple maatskappy hulle moet help om sekere slimfone te infiltreer, ’n onnodigheid is omdat die FBI dit self behoort te doen sonder Apple se hulp.

Snowden sê die FBI se inbreek op slimfone is “onsin” omdat daar verskeie metodes is wat toegepas kan word om belangrike inligting van mobiele Apple fone in die hande te kry.

Die FBI se versoek van ’n paar weke gelede dat Apple hulle moet help om in te breek op sekere slimfone, is deurlopend deur die maatskappy geweier met die argument dat die optrede in stryd sou wees met hulle waarborg aan kliënte om nie inbreuk te maak op hul reg op privaatheid nie.

Die FBI wou Apple se hulp kry om in te breek op die besonderhede van twee terroriste se slimfone wat vroeër verantwoordelik was vir die dood van 14 mense.

Op 22 Maart word die hofsaak tussen die FBI en Apple voortgesit oor die reg al dan nie dat ’n slimfoon van een terroris gekraak moet word omdat daar moontlik “belangrike inligting” op die foon mag wees.

Foto – Edward Snowden,