Deense babas word met skandeerder ondersoek

Pasgebore babas wat in een van Denemarke se drie groot hospitale die eerste lewenslig sien, sal met ’n ultra-moderne skandeerder nagegaan word om vas te stel of hulle harte enige foute mag hê.

Die drie hospitale, wat internasionaal bekend is vir die hoë standaard wat gehandhaaf word, is die “Rigshospitalet”, die “Herlev-Gentofte Hospitaal” en die “Hvidovre-Amager Hospitaal” wat binnekort die fasiliteit bied om pasgebore babas se harte te ondersoek.

Die skandeerder beskik oor die vermoë om selfs klein hart defekte uit te wys wat meestal moeilik op enige ander wyse vasgestel kan word.

Die hospitale verwag dat sowat 36,000 nuwe babas geskandeer sal word in die toekoms met die nuwe toerusting wat by die hospitale geïnstalleer word.

Die hospitale meen dit kan dokters vroegtydig bewus maak van ’n moontlike defek wat vinnig aandag kan kry voordat ’n meer ernstige toestand ontwikkel.