Birma wys presidentskandidate aan

Die Nobelpryswenner vir Vrede, Suu Kyi van Birma het twee van haar getrouste vriende as presidentskandidate voorgestel nadat haar gesprek met die Weermagverteenwoordigers in die parlement op niks uitgeloop het nie.

Suu Kyi het verlede jaar die verkiesing met ’n oorweldigende meerderheid gewen en ’n demokratiese bestel gevestig in die land wat vir dekades deur ’n militêre regering oorheers is.

Die militêre verteenwoordigers, wat 25% van die parlementslede uitmaak, was nie daarvoor te vinde dat sy die Grondwetbepalings oor die president se verkiesing wysig nie.

Dit het meegebring dat sy self nie tot president verkies mag word nie omdat sy getroud was met ’n Britse burger.

Sy het die name van twee van haar vertrouelinge voorgestel vir die amp as president.

Sy wou graag die bepaalde klousule wat haar verbied om president te word, gewysig kry, maar omdat die militêre vleuel in die parlement haar nie in alles goedgesind is nie, kon sy hulle nie oortuig om saam te stem vir ’n wysiging in die Grondwet nie.

Die kandidaat wat waarskynlik die presidentsamp sal beklee, is Htin Kway, die 69 jarige ekonoom en beroemde skrywer wat ook haar belangrikste adviseur is.

Die tweede persoon wat sy voorgestel het, sal waarskynlik die amp as vise-president beklee.

Alhoewel die militêre parlementslede ook nominasies inhandig, sal haar voorstelle die botoon vier wanneer dit tot stemming gebring moet word, aangesien sy ’n sterk meerderheid het in die parlement het.

Foto – Suu Kyi