AHMP se Voortrekkermeisie

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria (AHMP) wil nou hulle skoolwapen by die moderne dame aanpas. Die Voortrekkermeisie wat vir bykans ‘n 100 jaar met haar kappie en Voortrekkerdrag op die wapen gepryk het, en die leuse: “Ek sien haar wen,” moet nou vervang word.
AHMP is ‘n trotse skool met ‘n trotse tradisie. Hoekom moet die tradisie en geskiedenis van hierdie skool nou verwater word om by die semi-geletterdheid van tieners se smaak aan te pas? Volgens berigte moes die meer as 1,000 leerlinge van die skool met toe oë vir die voorstel stem. Skynbaar het die ontwerp van die gewilde kunsonderwyseres oorweldigende ondersteuning gekry.
Natuurlik. Dis tieners en tieners dink dat hulle die wêreld regeer. Wat het die skoolhoof verwag? Kon hulle nie eers ‘n oudtydse debat oor die aangeleentheid gevoer het nie; of was hierdie ‘n eerste les in demokrasie vir feministe.
Maar, die hartseerste is dat daardie wapen verteenwoordig ‘n belangrike deel van ons volksontwikkeling en geskiedenis, waarop die volgende vraag ontstaan en dit is hoe belangrik is die vak geskiedenis vandag nog. Bowe alles, het ons nog genoeg van ‘n intellektuele geheue oor om die rol van geskiedenis na waarde te kan skat, want dít moet ons ken om ons rol binne die Westerse Beskawing te kan uitleef.
Geskiedenis as ‘n beredeneerde verslag van politieke en sosiale veranderings, was die produk van Griekse denke. Eintlik kan gesê word dat die kapasiteit vir geskiedenis in hierdie verband is die eksklusiewe eiendom van die Westerse Kultuur wat deur die Grieke uitgevind is en deur ons geërf is.
Die toekoms sal altyd die verlede verbeeld, omdat die menslike natuur nie verander nie; die mensdom word altyd deur dieselfde basiese dryfkragte gemotiveer.
Die onwilligheid egter van mense om bestuderende feite te beredeneer, verteenwoordig ‘n soort fatalisme en kortsigtigheid, en tog is die gebeure rondom geskiedenis altyd die gevolge van menslike besluite, hetsy wys of dom. Geskiedenis het niks met modes te make nie en aangesien dit handel met sake wat nooit vooraf met sekerheid bereken kan word nie, sal die resultaat in ‘n mate  van die onvoorsiene afhanklik wees.
Volke, soos mense, moet altyd die gevolge van hulle dade dra – gevolge wat dikwels nie voorsien kan word nie.
Maar daar is geen historiese mag of kontemporêre prikkel, of ‘n oproep om verandering, wat hulle forseer om op ‘n gegewe tyd op ‘n sekere wyse op te tree nie.
Die mens is aan niks anders onderwerpe nie as die beperkinge van sy fisiese, intellektuele en morele vindingrykheid nie.
Geskiedenis is tragies, maar dit is tragies in die volste betekenis van die woord, want die tragedie is altyd die resultaat van menslike kortsigtigheid.
Mag die kunsonderwyseres, wat darem seker ook kunsgeskiedenis bestudeer het, weer ‘n slag nadink oor die projek, en mag die Voortrekkermeisie op die skoolwapen haar ereplek by ‘n ereskool behou. Ons kan dit nie bekostig nie dat nog ‘n 100 jaar se geskiedenis vir ‘n modegier uitgevee word nie.