Aandete met min moeite vir smulpape

Kom ons eet vanaand heerlike varsgebakte plaatkoekies met botter en stroop of heuning. Die reën is mos nou so welkom en so reg in ons kraal vir ‘n aandete van iets anders. Die kinders gaan dit ook sommer geniet. Sny ‘n blikkie boontjies in tamatiesous oop, maak warm en dan braai u 2 repies spek vir elke persoon. Plaas ‘n skeppie warm boontjies in elkeen se bord en plaas dan die spek langsaan en geniet dit saam met die bottergesmeerde plaatkoekies. Nogal ‘n vullende ete en regtig lekker.

 

Bestanddele:

 

450 ml meel

2,5 ml sout

20 ml bakpoeier

60 ml suiker

2 eiers

250 ml melk of karringmelk

10 ml olie

 

Metode:

 

Klits die eiers, melk of karringmelk, olie en suiker goed saam tot skuimerig.

Sif die droë bestanddele saam en meng by die eiermengsel.

Smeer dikboompan met bietjie olie, laat warm word en braai eetlepelsvol van die deeg in die pan aan alkante bruin.

Dien op met botter en allerhande snaaksighede van u keuse, soos bogenoemde boontjies in tamatiesous en spek of selfs heuning en aarbeie met room.

 

Hierdie resep maak omtrent 18 tot 20 plaatkoekies, afhangende van die eetlepel se grootte.

 

Smullige aandete!!