Wilde-als

Wilde-als / Artemisia afra

 

Wilde-als het menige name onder baie volke. Die naam “Artemisia” is afgelei van die Griekse god Artemis, die god van die jagter. Wilde-als is inheems aan Suid Afrika en dit is ‘n aromatiese plant met vele gebruike. Dit het ‘n taai, soet aroma wanneer daaraan geraak word. Hierdie plant  groei baie maklik en nogal goed om in die kruietuin te plant.

 

Artemisia afra is een van die oudste en bekendste medisinale plante met menige gebruike soos om ‘n toe neus oop te maak en ‘n benoude bors te verlig. Pluk gerus ‘n takkie en vryf dit tussen die handpalms en asem die sterk dampe in indien u verkoue het en u bors en neus is toe en u sal die verligting kan voel. Dit word ook gebruik om ingewandswurms uit te werk, vandaar die Engelse naam “wormwood”. Van die droë blare kan ‘n aftreksel gemaak word word gebruik kan word vir algemene verkouetipe siektes. Die plante was oorspronklik net geplant vir medisyne maar dit het so gewild geword dat dit tussen al die ander plante in die beddings begin verskyn het.

 

Wilde-als vertoon natuurlik ook mooi in die tuin met sy silwergrys loof. Plant dit saam met kleurvolle blomme en dan vertoon die wilde-als sommer pragtig tussen die blomme. Die blare is varingagtig en fyn en dit word tussen 1,5 – 2 meter hoog. Dit groei dig en bosagtig. Die stingels is houtagtig en dik net bokant die grond maar hoe langer hulle word hoe dunner en sagter word dit. Die stingels is gerib van onder tot bo by die dun punte en is oortrek met fyn wit haartjies. Dit is hierdie wit haartjies wat die plant die grys laat vertoon. Die blare is verdeel en is varingagtig.  Wilde-als dra ook klein room/geel blommetjies in die laatsomer. Die klein blommetjies verskyn aan die punte van die stingels. Dit is nie juis opvallende blommetjies nie, mens sien dit skaars raak omdat hulle ook bleek vertoon.

 

Wilde-als kom oral in Afrika voor en groei baie goed in die Cederberge. Dit groei ook wild in beboste gebiede waar dit klam is.

 

Indien u ‘n Wilde-als in die tuin het, kan dit aan die einde van elke lente straf teruggesnoei word. Dit sal die plant nog mooier en meer bosagtig laat groei. Dit kan ook as heinings geplant word en wanneer die wind daardeur huil, sal u die aroma kan geniet. Plant dus gerus so ‘n wilde-als struik in die tuin want die loof is mooi en die aroma heerlik.

 

Tuiniers, geniet u tuin na die heerlike reën wat ons ontvang het. Ons hoop daar waar u boer of woon, het dit ook sommer goed gereën.