Woorde-oorlog oor Boere-oorlog

Nie tevrede daarmee dat hulle die hele infrastruktuur van die land op ‘n skinkbord gekry het nie, moet die terroriste-regime selektief ook nog ons geskiedenis steel.
Bekende Afrikaanse historici en selfs die VF+ het verontwaardig gereageer op die aankondiging deur Nathi Mthethwa, Minister van Kuns en Kultuur, dat die Anglo-­Boereoorlog (ABO) voortaan as die Suid-Afrikaanse Oorlog bekend sal staan.
Fransjohan Preto­rius, emeritus professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria sê dat geen ander naam sal bevredigend wees nie en om dit net die Suid-Afrikaanse Oorlog te wil doop beteken dat jy die rol van die aggressor Engeland, miskyk.
Volgens hom is dit verstommend dat die ANC-regering ’n oorlog ’n amptelike naam wil gee en dit in mense se voorhuise, studeerkamers en in biblioteke wil indwing.
Buitendien is Mthethwa verkeerd as hy dink die rol van swart mense is iets onlangs. Afrikaanse historici skryf al byna 40 jaar daaroor.
Pretorius sê voorts sal Afrikaanse boeke nie verkoop as daar verwys word na die Suid-Afrikaanse Oorlog nie.
Dr. Louis Bothma, Bloemfonteinse geskiedenisskrywer, het ook teen die minister se aankondiging uitgevaar.
Volgens hom het ons nou met idiote, wit en swart, te doen wat absoluut geen begrip van die komplekse historiese prosesse van die afgelope 100 jaar en meer het nie.
Hy sê dit het maar net met politieke korrektheid te doen. Die geskiedenis moet aangepas word by die ANC se bisarre rasse-ideologie. Die uiteinde van alle historiese prosesse moet die rasse- en geslagsamestelling van die bevolking weerspieël.
Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, sê die minister kan nie eensydig besluit om die naam te verander nie.
Nêrens is historici, die parlementêre portefeuljekomitee of die publiek deur openbare deelname gekonsulteer oor so ’n naamsverandering nie. By die verandering van dorpsname is daar streng voorwaardes van hoe en wie almal gekonsulteer moet word.
In die tydperk 1899 tot 1902, waartydens die oorlog plaasgevind het, het Suid-Afrika nog nie bestaan nie. Suid-Afrika is ’n begrip wat eers ná Uniewording in 1910 ontstaan het.