Woewe kry hulle eie hotel

‘n Nuwe hondehotel wat in die Kaap oopgemaak het, is die verwesenliking van  Yanic Klue, wat van kleintyd af gedroom het om met diere te werk.

Aanvanklik wou sy ‘n veearts word, maar die eerste keer toe sy gesien het hoe ‘n hond se temperatuur geneem word, het sy flou geval.

Dit het egter nie haar liefde vir diere beïnvloed nie en nou het sy haar liefde vir diere in die atFrits-hondehotel gestort.

Dié hotel, wat ook ’n honde-dagsorg is, spog met hotelkamers soos Jurassic Bark, K9 Nkandla en Hollywoof. Die kamers is toegerus met ’n platskermtelevisie, ’n bed, speelgoed en kos.

Honde-eienaars kan uit drie pakkette kies.

Die ‘Doggy Dormitory’ (kamer waar klomp honde saam bly) sal vir een aand se oorslaap jou R250 kos. Die ‘Deluxe’ (private kamer met ’n bed en ’n unieke tema) sal R350 kos en die ‘Platinum Suite’ (die beste linne en toegerus met platskermtelevisie) sal jou R500 kos.

Die honde word ook daagliks vir ’n stappie De Waal-park toe geneem. Daar is ook speelhokke waar die honde met mekaar kan speel. In elke speelhok sit daar hondehanteerders wat ’n ogie hou.

Klue wat nog altyd ’n voorliefde vir beginnerondernemings gehad het, se idee vir die hondehotel het reeds in 2010 begin. Terwyl sy haar MBA in Stellenbosch voltooi het, het sy ’n nuusbrief van Springwise ontvang. Dié webblad kyk na die wêreld se jongste neigings en hier het die Sniff-hondehotel in Amerika Klue se oog gevang.

Vyf jaar later is die droom verwesenlik en die opsie om oktrooie (franchises) te koop is reeds daar. Table View, Dubai … sê Klue.

Foto: atFrits Hondehotel