Water bly daal in die Vrystaat

Kroonstad sal waarskynlik net nog water vir die volgendende 32 dae hê. Dit is die mening van Thys Vermeulen, eertydse stadsingenieur en VF+-raadslid van Moqhaka-munisipaliteit
Die watervlak van die Bloemhoekdam, het glo tot onder 20% gedaal. Bloemhoekdam is Kroonstad se grootste opgaardam. Dié buitestroomdam, waarheen water uit die onderskeie damme in die Valsrivier vir opgaardoeleindes oorgepomp word, het ’n kapasiteit van 26,000 megaliter – genoeg om Kroonstad tot twee jaar van water te voorsien.

Maar Vermeulen sê die Valsrivier, wat tussen Bethlehem en Paul Roux ontspring, staan al vir 18 maande.
Streng waterbeperkings en beurtwater word deur die Moqhaka-munisipaliteit in Kroonstad, Viljoenskroon en Steynsrus toegepas. Moqhaka is die eerste munisipaliteit wat beurtwater ingestel het.
In Kroonstad, Maokeng en Brentpark word die watertoevoer daagliks tussen 20:00 en 04:00 onderbreek, met die uitsondering van Saterdae.
Steynsrus word egter die ergste deur die droogte geraak. Die dorp se opgaardam, wat ook deur die Valsrivier gevoed word, is dolleeg. Inwoners hier het daarom slegs tussen 18:00 en 20:00 daagliks water. Die boorgate wat vir die watersuiweringsaanleg water moet voorsien, het aansienlik gesak en is baie swak.