Wat sê die grondwet werklik?

Ons volk word daagliks meer rondgeslinger deur golwe en strominge.

Wanneer ons egter probeer om klemverskille oor die hoof te sien, is daar in hoofsaak drie kampe wat uitkristaliseer.

Daar is ten eerste die adel van ons volk – diegene wat met ware pioniersgees reeds in die tagtiger- en negentiger jare van die vorige eeu aan nuwe oplossings begin werk het, wie se range vandag dalk skraal is, maar wat die volksidentiteit nooit verruil het vir eiebelang, invloed of rykdom nie.

Daardie Boere-Afrikaners wat reeds twee dekades of langer werk maak van eie instellings, nie net daaroor debatte voer, navorsing doen en kongresse aanbied nie. Natuurlik voer ons sinvolle gesprek wanneer nodig, maar daar is talle Gideons-bendes wat stil-stil werk in plaaslike skole, sakekamers en ´n finansiële bedryf, ´n werklik vrye pers en nog vele meer.

Daar is diegene wat blind-stom-doof in die nuwe bedeling hulle-self tuis voel – aan hulle is weinig salf te smeer.

Die laaste groep begin in baie breë lyne insien dat die Afrikaner se toekoms in 1989-94 op die altaar van ´n nuwe wêreldorde geplaas is.

Maar hulle klou nog was aan die waan van die reënboog-belofte.

Ook kenmerkend van hierdie groep is ´n verknogtheid aan “menseregte”, ´n blinde geloof in die humanisme tot die vlak waar hulle werklik dink dat moderne humanisme naas Christen-wees die geloofstoets kan deurstaan.

Veral klou hulle krampagtig vas aan ´n ‘geloof’ in die Grondwet, grondwetlike regte en demokrasie.

Wat is die feite?

Wie het reg?

  • die Boere-Afrikaner wat die grondwet in geheel verwerp en strewe na soewereine vryheid?

  • of daardie moderne Afrikaners wat glo daar bestaan ´n middelgrond?

Kom ons laat een oomblik die geskiedenis buite rekening:

(Xhosa moord- en plundertogte, die verraad van Dingaan, die plundery van Silkaats en Mosjesh, die swart bendes onder Britse wapens, ANC-terreur en volksmoord.)

Kom ons laat selfs een oomblik die grondwet se ontkenning van God, Skepper en Onderhouer ook van volke, uit die debat – kom ons vervlak die debat sodat die humaniste ons kan verstaan:

Regslui, politici en akademici is vinnig om met “gelyke regte” en “beskerming teen diskriminisasie” hierdie grondwet as “model” aan ons voor te hou – oordeel eerder self.

Ek hou aan u enkele artikels uit hierdie “model-grondwet” voor: (my eie klem)

Oor “gelykheid” –

Arikel 9 (2) Gelykheid sluit die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede in. Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is.

Artikel 9 (5) Diskriminasie op een of meer van die gronde in subartikel (3) vermeld, is onbillik, tensy daar vasgestel word dat die diskriminasie billik is.

Skielik kry die aanhef se “Ons … Erken die ongeregtighede van ons verlede;” nuwe en ysingswekkende betekenis.

Ironies dat juis daardie sub-artikels onder artikel 9 (Gelykheid) te vinde is.

Tensy ek nie meer my eie taal magtig is nie, trek hierdie twee sub-artikels ´n duidelike streep deur enige gewaande grondwetlike beskerming vir ons volk!

Of soos ons spreekwoord lui – “perdd***** is nie vye nie.”

Hier staan duidelik dat diskriminasie ten gunste van sekere groepe toegepas mag word, welke diskriminasie dan verder uitdruklik billik verklaar kan word.

In ´n moderne een-man-een-stem demokrasie word dit eenvoudige wiskunde.

Indien die meerderheid sê dat diskriminasie is billik …

Besluit dus maar self wie het reg – sit dan gerus skouer aan die wiel by u plaaslike CVO skool, Oranje sakekamer of behoudende volkskultuur organisasie.