Wat is die waarde van name

Die voormalige Joego-Slawiese Republiek van Masedonië se Minister van Buitelandse Sake,  Nikola Poposki, het in Athene gesê dat sy land en Griekeland hulle bitter geskil moet laat vaar en eerder konsentreer op die wedersydse belange tot beide se voordeel.

’n Hewige debat het ontstaan omdat Griekeland die naam “Masedonië” opeis saam met die historiese gebeure wat verband hou met die tuisland van Alexander die Grote wat ook bekend staan as Alexander 111 van Masedonië.

Die Grieke beweer dat Joego-Slawië die naam Masedonië gedurende 1991 hulle eie gemaak het terwyl dit Griekse “eiendom” is.

Poposki het egter aan sy regering gesê die verhouding met Griekeland is belangriker as ’n naam, en alhoewel daar “groot berge” is wat oorgegaan moet word, moet alles moontlik gedoen word om wrywing te voorkom.

Die Griekse Minister van Buitelandse Sake, Nikos Kotzias, sê die twee regerings is besig om alle moontlikhede te ondersoek om ’n kompromie te bereik.