VSA dorpie te koop

In Amerika is ’n klein, verlate dorpie te koop aangebied vir iemand wat kans sien om nuwe lewe te blaas in die spookdorp waar selfs die spoke gevlug het.

In Suid-Dakota is die dorp Swett nou beskikbaar teen sowat R3,7 miljoen, en kan die nuwe eienaar staatmaak op ’n kroeg wat met bietjie ekstra koste, opgradeer kan word.

’n Redelike woonhuis is op die dorp en daar is ’n gebou wat gebruik kan word om motorvoertuie te herstel en bande te vervang.

Die dorp is sedert 2014 in die mark, en talle belangstellendes het reeds ’n aanbod gemaak, maar telkens het die koop deur die mat geval omdat lenings nie maklik beskikbaar is vir sulke transaksies nie.

Sowat 80 jaar gelede het die dorp 40 mense gehuisves, maar met tyd het net die vorige eienaar oorgebly en dit in die mark gesit, maar die bankiers het uiteindelik beslag gelê  op die dorp wat nou weer in die mark is.

Dit is nie die eerste dorpie wat in Amerika te koop aangebied word nie, en in Suid-Afrika is daar ook verskeie klein dorpies verkoop aan ontwikkelaars en spekulante.