Voos ‘15

Al die nuus, koerante, programme en tydskrifte doen hierdie tyd van die jaar maar terugflitse op die gevalle jaar omdat hulle te lui is om nuwe stories te soek en te skryf. Om nou maar eerlik te wees, moet ek sê 2015 was ‘n jaar wat die sweep se voorslag ook maar deurgeklap het. Daarom kyk ek ook maar terug op 2015, ‘n naar jaar, om te sien wat die jaar opgebring het.

Die ekonomie en die politiek van Suid Afrika het in die jaar 2015 meer houe gevat as ‘n boemelaar in ‘n waterkloof parkie. Die ding lê bebloed en uitgemergel soos die belastingkoei en veg om oorlewing. Dit sluit in die weiering van aartappelkop nommer 1 om vir sy huis en brandpoel te betaal, die aanstelling van ‘n naweekminister en die rand tot wat presidensieel-onuitspreekbare vlakke getuimel het teen ander eenhede. Sy ernsbelaaide parlementêre reaksie op alles was ‘n gegiggel soos ‘n laerskoolmeise by ‘n pajamapartytjie waar te veel rooi koeldrank bedien is!

Op geestelike gebied was die jaar so skeef soos ‘n NG predikant. Met Belhar is die pot misgesit, maar met die gay besluit raak, net jammer daar het klaar ‘n ander man op die pot gesit!

Internassionaal is dit interessant om te sien hoe die liberale demokrate van die VSA nou al geheel sosialisties geword het terwyl die Rebublikeine se voorloper dink dat ‘n moewiese muur tussen die VSA en Mexico gebou kan word en die rekening maar net oor die grens gestuur sal kan word. Waarom dan nie sommer ‘n muur om Ingeland en Australië ook bou nie?

Kieskeurige vlugterroriste het ook na Europa gestroom, Ingeland word deur die see ingesluk en Suid Afrika is al droeër gebak as ‘n Ouma beskuitjie!

Daar was ander goed wat ook gebeur het in die jaar, maar ek kon nie daarvan lees of hoor nie, want ek het ‘n beurt gekry om nie krag te hê nie! Daar is wel pogings om vir my bietjie Russiese krag te koop, maar dit sou beteken dat ek dan aan Rusland sal behoort! Soveel as wat ek soms van Poetin hou dink ek ook hy is bietjie van ‘n Russiese doppiepoppie. Ek vermoed daar is heelwat kleiner Poetintjies daarbinne wat ek nie wil ontmoet nie!

Tog, almal wat hier lees leef nog, al is dit net net en mag 2016 vir u ‘n wonderlike jaar oplewer en vir Zuma ‘n manifestasie van die vlooie van 10,000 Afghan kamele in die kieliebakke.

Tot volgende jaar

Die Sweep