Vlugtelekker

As jy daagliks verstom word deur waar ‘n een en ‘n halfjarige seuntjie oral kan inklim om vas te sit, wat hy alles in die toilet kan gooi, hoe hy kan agterkom dat as jy die dreinproppie van die stort kan verwyder, ‘n gholfbal net mooi só presies in die gaaitjie pas dat dit haas onmoontlik is om dit uit te kry en hoe hy dit kan regkry om met ‘n lekkertjie, klein genoeg om nie aan te kan verstik nie, steeds 89.65% van sy lyf te besmeer, dan verbaas min dinge jou. Tog moet ek bieg dat toe ek lees in Die Vryburger van die “vlugtelinge” wat weier om in Portugal te gaan bly, kon jy ‘n Boeing in my mond parkeer mét ontplooide landingsgereedskap.

Die ingelsman wat dit gewaag het om te sê “beggers can’t be choosers” is met vier plat Sirriese vingers reg op sy bek geklap asof hy gevloek het voor sy ouma toe die vlugtelinge weier om deur die kommissie van die Europese Unie by Gortupal ingedeel te word. Blykbaar wil hulle nie hul gratis verblyf, beveiliging, kos, klere en mediese versorging by Gortupal kry nie maar by ander lande. “Oooooo, so!” Hoor ek u sê met ‘n Tina Joemat Petterson tuitbekkie: “Toe stuur die kommissie seker die vlugtelinge terug na Sirië, of nog beter, binne in daardie plek in wat aan die bout vasgedraai word?” Maar nee, u is verkeerd! Hulle is nie teruggestuur na die plek wat vooraan die sterk koffie kom nie, hulle gaan herskryf hul reëls sodat vlugtelinge kan aansoek doen om te bly waar hulle ookal opdaag!

Ons moet darem werklik billik wees, mense. Ons kan darem seker nie ‘n arme vlugteling dwing om in Portugal te bly teen sy sin nie, veral nie as sy opdrag IS om met sy plofbare polyotter te gaan swem deur die skares van Parys nie!

Tot volgende openbare burgerlik-geteikende slag

Die Sweep