Verwoede bekgeveg tussen VSA Demokrate

’n Verwoede bekgeveg het ontstaan tussen die twee voorste kandidate vir die presidentsverkiesing in die kamp van die Demokrate.

Die presidentskandidaat, Bernard Sanders, het nou sovêr gegaan om die Demokrate se Nasionale Komitee (DNC) te dagvaar in ’n eis om toegang te kry tot die party se verkiesingsleêrs nadat hy deur die Komitee geskors is weens beweerde “diefstal” van inligting wat behoort aan sy opponent in die stryd, Hillary Clinton.

Kenners meen die gebeure sal ’n negatiewe invloed hê op Sanders se veldtog, maar gaan waarskynlik ook ’n baie slegte gevolg inhou vir die Demokratiese Party.

Die DNC het glo Sanders daarvan beskuldig dat hy besig is om vuilspel te speel in ’n poging om sy opponent te ondermyn, en Sanders glo die Party is besig om Clinton te bevoordeel.

Die Komitee het verlede week sovêr gegaan as om Sanders te skors weens beweerde “diefstal” van gegewens waaroor Hillary Clinton beskik wat ondermeer inligting is oor etlike miljoene Amerikaanse kiesers, stemstatistieke en ander persoonlike inligting.

Die DNC beweer dat kontrakteurs wat die data bestuur vir Clinton, vasgestel het dat Sanders se werkers toegang verkry het tot die gegewens en selfs gepoog het om dit af te laai van die stelsel.

Sanders se bestuurder het glo ’n werker afgedank en ander word ondervra omdat hulle onregmatig opgetree het, maar sê ook dat die Party oor geen mag beskik om hom te skors nie.

Sondag het die Demokrate aangekondig dat hulle die skorsing opgehef het teen Sanders weens die geweldige druk wat ontvang is van partygenote en kiesers.

Politieke ontleders meen die gebeure sal nie ’n noemenswaardige uitwerking hê op die kandidate of die party nie, maar die gevoel is dat die party kant gekies het ten gunste van Clinton.

Foto – Bernard Sanders