Van Rooyen weg, Pravin terug

Sal pres. Jacob Zuma die fiasko van sy ondeurdagte aanstelling van Des van Rooyen kan oorleef, is die vrae wat gevra word nadat die president na vier dae van besluit verander het, en Pravin Gordhan weer as Minister van Finansies aangestel het.
Die stap was skynbaar nadat Zuma onder druk van kabinetslede geplaas is wat gedreig het om te bedank ná sy afdanking van Nhlanhla Nene. 
Volgens inligting moes politici en verteenwoordigers uit die sakewêreld baie mooi aan Zuma verduidelik hoeveel skade hy besig is om die land te berokken.
Ekonome het gesê dat hulle verwag dat die rand weer sy kop sal kan optel, maar dit is moeilik om te voorspel of die skade wat reeds gedoen is, omgekeer kan word.
Gordhan, die huidige Minister van Samewerkende Regering het gedurende sy vorige termyn as Minister van Finansies ’n informele kombuiskabinet – bestaande uit senior tesourie-amptenare, bankiers en ekonome – gehad het wat hom van raad bedien het. 
Zuma het Sondagaand ná 21:00 ’n verklaring uitgereik waarin hy aangekondig het dat hy sy aanstelling van die onbekende ANC-LP Des van Rooyen as Minister van Finansies terugtrek.
Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê Zuma is nou beslis ’n verswakte president. Die enigste vraag is of hy sy einde in 2016 of in 2017 tegemoet gaan kom. Teen 2019 is hy iets van die verlede.
Die EFF-leier, Julius Malema, het gesê dat daar niks oor is nie, hierdie is ’n totale, piesangrepubliek. 
Mmusi Maimane, leier van die DA, het gesê die president moet ophou om Russiese roulette met ons ekonomie te speel.