Twee lande aangekla oor menseregte

Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het verlede Vrydag ’n resolusie aanvaar wat aanklagte bevat teen Noord-Korea en Iran oor hulle vergrype aan menseregteskendings.

Beide die regerings van Pyongyang en Teheran het die aanklagte verwerp as onjuis, maar die Algemene Vergadering het die besluit geneem nadat ’n stemming gehou is.

Die resolusie is aanvaar met 119 stemme daarvoor en 48 daarteen, uit ’n totaal van 193, terwyl die res buite stemming gebly het.

In reaksie daarop het Noord-Korea gesê dit is ’n moedswillige aanslag wat deur lande soos die VSA en Japan gevoer word om die sisteem en die staat af te kraak.

Die Noord-Koreaanse woordvoerder het ook gesê die VN se besluit het geen wettige en internasionale binding nie.

Die resolusie teen Iran bevat ondermeer ’n aanklag van onmenslikheid teen joernaliste en aktiviste asook die toepassing van die doodstraf.

Kanada het egter nie gehuiwer om die Irannese president, Hassan Rouhani, te loof vir sy optrede om diskriminasie teen vroue en minderheidsgroepe in sy land te beëindig nie.

’n Resolusie wat teen die Siriese regering se optrede gerig word, sal eers later deur die Algemene Vergadering hanteer word.

Foto – Irannese President Hassan Rouhani