Turkye wou praat, Russe nie

Terwyl Rusland besig is om maatreëls in plek te kry wat sy vegvliegtuie sal beskerm teen aanvalle uit Turkse gebied, het die spanning verhoog tussen die twee lande, en weier beide leiers om enige toegewings te maak.

Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, het tydens ’n openbare toespraak glo gesê hy het ’n uitnodiging gerig tot die Russiese president om met mekaar van aangesig tot aangesig te praat oor die voorval.

Die Russiese president het glo nie daarop gereageer nie, behalwe om te sê dat Turkye die saak kan regstel deur hul verskoning aan te bied vir die fout wat begaan is om die vegvliegtuig af te skiet.

Hy het weer beklemtoon dat Turkye nie moedswillig was met die neerskiet van ’n Russiese vegvliegtuig nie, want voldoende waarskuwings is gerig tot die vlieënier wat in die Turkse lugruim was.

Woordvoerders in die Turkse hoofstad Ankara sê die Russiese vegvliegtuig het verskeie  waarskuwings geïgnoreer, maar Moskou sê die Turkse vlieëniers was moedswillig en het ’n missiel afgevuur sonder om die nodige internasionale reëls na te kom.

Dit het veroorsaak dat pres. Poetin ’n beskuldiging gemaak het dat Ankara ’n beplande aggressie openbaar het.

President Erdogan het die Russiese aanklag as “onaanvaarbaar” beskryf, en daarmee het die spanning verder verhoog sodat Rusland ook ekonomiese sanksies begin toepas teen Turkye deur Russe te vra om nie hulle vakansies in Turkye deur te bring nie.

President Erdogan sê hy hoop president Vladimir Poetin sal by die kongres oor klimaatsverandering in Parys tyd beskikbaar maak om met hom te praat oor die aangeleentheid.

Foto – Pres. Recep Tayyip Erdogan