Turkye hou migrante terug

Mense van Sirië, Iran, Afghanistan en ander uit Afrika lande is van die sowat 1,300 wat deur Turkye teruggehou word nadat die Europese Unie (EU) miljarde euro aan die land belowe het as hy beter beheer toepas.

Turkye het ook ’n aantal smokkelaars in hegtenis geneem en minstens vier bote gekonfiskeer wat onwettige migrante daarheen vervoer het.

Die migrante het gereed gemaak om na Griekeland te vaar toe die polisie hulle betrap het.

Van die migrante het weggekruip in olyfboorde en lang gras, maar die polisie het almal vasgetrek en in hegtenis geneem.

Die migrante is nou in ’n kamp wat as ’n sentrum vir repatriasie gebruik word, maar hulle kan waarskynlik ook nog vervolg word ingevolge die Turkse wetgewing.

Ontleders meen die Turkse regering doen nou vir die eerste keer moeite om seker te maak ongewenste elemente word vasgetrek, bloot omdat die EU miljarde euro aan hulle belowe het.

Die Turkse regering het die geld baie nodig nadat Rusland handelsanksies teen die land ingestel nadat Turkye ’n Russiese vegvliegtuig afgeskiet het.

Waarnemers sê die optrede met migrante deur Turkye bring verligting by menige staatshoofde wat bekommerd is oor die insluip van terroriste in Europa.