Trump doen goeie woord vir Poetin

Die voorloper van die Republikeinse presidentskandidate, Donald Trump, het glo ’n goeie woord gerig tot die Russiese president, Wladimir Poetin, nadat die Rus ’n paar positiewe opmerkings gemaak het oor dié omstrede kandidaat.

Trump het gesê dit is vir hom ’n eer om ’n kompliment te kry van ’n man soos Poetin wat gerespekteer word deur die mense van sy eie land, asook deur mense van ander lande.

Dit volg nadat president Poetin glo na Trump verwys het as as ’n persoon wat sonder twyfel ’n verstandige mens is met besondere talente.

 Pres. Wladimir Poetin het na Trump verwys tydens sy jaarlikse perskonferensie waartydens hy ’n oorsig gee van wêreldgebeure.

Trump het op Poetin se uitspraak gereageer en gesê hy was nog altyd onder die indruk dat Rusland en die VSA goed kan saamwerk in die stryd teen terrorisme, en ook met die herstel van wêreldvrede.

Hy is tydens ’n media-onderhoud gekonfronteer oor sy lofrede vir Poetin, en het daarop gereageer deur te sê dat Poetin ’n goeie leier vir sy land is en dat dit meer is as wat Amerika aan Obama het.