TLU SA gaan "redelike mens" optrede tydens plaasaanvalle juridies ondersoek

TLU SA se Veiligheidskomitee het ’n spoedvergadering in Pretoria gehou om die onaanvaarbare stand van geweldsmisdaad op plase en landbouhoewes aan te spreek
Plaasaanvalle en moorde het die afgelope maand ’n skerp toename getoon en sovêr is 62 mense hierdie jaar in plaasaanvalle vermoor. In November alleen is 7 mense op plase vermoor, terwyl daar 31 plaasaanvalle was waarvan TLU SA bewus is. Sover het daar al 5 plaasmoorde in Desember plaasgevind en 18 gerapporteerde plaasaanvalle.
TLU SA eis dat die politieke leierskap van die land, in besonder die President en sy kabinet hulself duidelik uitspreek en dit in ondubbelsinnige terme verdoem en verwerp. “Dit is onaanvaarbaar dat die owerheid geen praktiese erns toon om die veiligheid van die land se voedselprodusente te verbeter nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, Adjunk-President van TLU SA en voorsitter van die Veiligheidskomitee. Hy sê die betrokkenheid van buitelanders, veral Zimbabwiërs, by geweldsmisdae wek ernstige kommer.
“TLU SA oorweeg ‘n verskeidenheid optredes om die openbare en internasionale aandag te fokus op die lot van plaasbewoners, die buitengewone wreedaardige aard van die misdade en in baie gevalle, die onbevredigende reaksie van die SAPD.
“Benewens die onmiddellike opskerping van veiligheidsmaatreëls, beplan TLU SA om regsadvies in te win ten opsigte van wat onder sulke omstandighede as die optrede van die ‘redelike mens’ sou wees wanneer geweldsmisdaad dreig en tot welke mate die optredes van misdadigers grens aan ‘terrorisme’”, sê mnr. Geldenhuys.
Hy het boere opgeroep om uiters paraat te wees oor die feesgety.