Tiener vermoor

’n Hoërskoolleerling van Verwoerdburg is Woensdag by Trafalgar naby San Lameer aan die KwaZulu-Natalse Suidkus, waar sy vakansie gehou het, vermoor.
Shayleen van Zanten (15) van die Hoërskool Eldoraigne was saam met haar pa en ’n skoolvriendin by die see.
Haar tannie, Thea Coetser, het gesê die twee vriendinne het teen omstreeks 18:00 gaan stap. Die son het nog geskyn.Toe hulle ’n rukkie later terugkeer na die vakansiehuis, het die meisies agtergekom hulle word agtervolg.
Hulle het op die paadjie vanaf die strand na die huis begin hardloop. Die man het ook begin hardloop.
Twee trappies van die hek van die huis af het Shayleen begin skree en die man het haar aangeval. Hy het in gebroke Engels haar selfoon gesoek en haar, volgens die polisie, vier keer met ’n mes gesteek.
Coetser se seun het ook Shayleen se pa, Arie, geroep.
Hulle het die bloed van die wond op haar bors probeer stop en met haar hospitaal toe gejaag. Sy is daar dood verklaar.
Van Zanten word Donderdag, ’n dag voor Kersfees en presies ’n maand voor haar 16de verjaardag, uit die Kerk sonder Mure in Verwoerdburg begrawe.
Spanmaats van die Forest Knights-yshokkieklub, waar Shayleen ’n ywerige speler was, het aangedui dat hulle die diens in hul klub-truie sal bywoon ter ere van hul vriendin.