Terroriste het duisende paspoorte

Westerse Intelligensiedienste in Europa het glo vasgestel dat die Islamitiese Staat (IS) terroriste oor ’n magdom paspoorte beskik wat buit gemaak is by inwoners van Sirië, Irak en Afganistan.

Volgens ’n invloedryke Duitse koerant word die paspoorte gebruik om sogenaamde vlugtelinge na Europa te stuur om hul terreurdade uit te voer.

Die vermoede bestaan dat die terroriste met die besetting van stede, beslag gelê het op toerusting wat paspoorte kan vervaardig.

’n Woordvoerder van Frontex in Europa sê die paspoorte word gebruik om terreurgroepe na Europa te stuur wat ’n geweldige groot veiligheidsrisiko geword het.

Vroeër het Europese lande begin om ’n lys op te stel van vermiste Siriese en Irakse paspoorte, maar nou blyk dit dat die paspoorte bykans almal vervalste dokumente is, en derhalwe van geen nut vir die veiligheidsmagte is nie.