Terrorisme wag in elke land

Elke land op aarde dra in ’n mindere of meerdere mate terroristiese elemente wat op enige stadium tot uitbarsting kan kom.

Dit is die mening van ’n kenner wat vir jare betrokke was by die bekamping van terrorisme in Suid-Afrika.

Hy sê dit is ’n bewysbare feit dat Suid-Afrika ’n hele aantal terroriste-selle het wat gedurig besig bly met bedrywighede wat wissel van werwing tot monitering van politieke gebeure.

Volgens hom is daar sekere selle wat gemoeid is met spesialis take soos die vestiging van bendes wat ’n “laer graad” van terreur toepas, terwyl hulle ook mettertyd gekeur word om opgelei te word in terrorisme.

Die afgelope weke se gebeure toon uitdruklik dat daar tans geen land is waar terroriste soos die Islamitiese Staat, of die Boko-Haram, en andere nie hulle sel-stelsel ontplooi het nie.

Hy wys ook daarop dat verskeie opleidingsentrums in Suid-Afrika bestaan wat glo daarop ingestel is om werkloses te betrek en op te lei in plakkerskampe en ander informele woonplekke.

Die verswakte weermag van Suid-Afrika het van die land ’n uitstekende opleidingsentrum gemaak, maar is ook ’n maklike teiken wanneer die terroriste ’n aanval wil uitvoer.

Hy reken die betogings en toi-toi by die parlement, en die ontwrigting van sittings, is ’n voorbeeld van hoe maklik die terroriste die land se regering omvêr kan gooi.