SU-24 Swart-kassie is beskadig

Die Russiese SU-24 vegvliegtuig se oranje “swart kassie” wat die vlug rekords bevat, is oopgemaak in die teenwoordigheid van internasionale verslaggewers en diplomate tydens ’n spesiale geleentheid in Moskou.

Die optrede van Rusland is as plan gevolg om te bewys dat die militêre vliegtuig deur die Turkse lugmag afgeskiet is buite sy luggrense.

’n Russiese woordvoerder, Sergie Bainetov, het bevestig dat die “kassie” meganies beskadig is en dat die geheue kaart ook beskadig is.

Kolonel Andrei Semonov van Rusland het later gesê die kassie, wat in die stertkant van die vliegtuig gemonteer was, is beskadig toe die missiel die vliegtuig getref het, want die missiel het die vliegtuig aan sy agterkant getref.

Diplomate van 19 lande was uitgenooi om teenwoordig te wees tydens die inspeksie wat gedoen is op die oranje “swart kassie”.

Amptelike teenwoordiges het bevestig dat die ”kassie” onaangeraak was en eers in die teenwoordigheid van joernaliste en diplomate, asook ander kundiges, oopgemaak is.

Kundiges gaan egter die “kassie” ondersoek en probeer vasstel of daar wel van die data herwin kan word.

Rusland het vroeër gesê hulle beskik oor bewyse dat die vegvliegtuig wat afgeskiet is, nie in Turkse gebied was nie.