Studentetwak is soos IS

Die studente-onluste, gedryf deur die #FeesMustFall-beweging wat soveel ontwrigting veroorsaak het, en slegs ‘n klein groepie swart studente verteenwoordig, se optrede moet met die IS vergelyk word.
Dit is die woorde wat die filosoof en skrywer, dr. Johann Rossouw, verlede week in sy toespraak by die stigtingsbyeenkoms van die Afrikaanse Alumni-vereniging (AAV) gesê het. Hy is die voorsitter van dié vereniging.
Hy het gesê die feit dat IS Parys aangeval het op die dag wat die Universiteit Stellenbosch (US) se bestuur sy omstrede taalgespreksdokument bekendgemaak het, het beduidende ooreenkomste tussen dié groep en die #FeesMustFall-beweging.
Rossouw noem dit parallele verskynsels. Dis ’n nuwe geslag voorheen benadeeldes wat vir hul ouers se verraad wraak neem op die nakomelinge van diegene wie se ouers hul ouers verdruk het, het hy gesê.
Hy het benadruk dat Afrikaanse studente sal uit hul passiewe mentaliteit moet ontwaak en vir die behoud van hul taal by die vier oorblywende Afrikaanse universiteite moet begin veg as hulle wil hê die taal moet oorleef.
Afrikaans aan universiteite is die slagoffer van universiteitsbesture wat ’n marklogika volg, die nadraai van apartheidsisolasie, ’n regering wat alles in sy vermoë sal doen om beheer te behou en militante swart studente-energie, het hy gewaarsku.
Universiteitsbesture verswyg die feit dat die handjievol militante swart studente
by Kovsies, die Puk en Maties glad nie die meerderheid swart studente verteenwoordig nie.
Hy sê hulle is vasgevang in ’n knyptang tussen die Fascistiese, ongrondwetlike regeringseis vir demografiese verteenwoordiging en militante studente-energie.