Steeds daal die matrieks se slaagsyfer

Vanjaar se slaagsyfer gaan slegter lyk in vergelyking met 2014 se persentasie van 75,8%.
Umalusi het gister die uitslae van die nasionale senior sertifikaat goedgekeur. Uitslae sal op 6 Januarie by skole bekend gemaak word.
Faktore wat ’n rol gespeel het met die matriekklas van 2015 se swak vertoning, sluit in die byna 10% van die groep wat verlede jaar van gr. 11 na gr. 12 oorgeplaas is.
Prof. John Volmink, voorsitter van Umalusi, die raad vir gehalteversekering, sê dat sonder die oorplasers sou die 2015-klas steeds swakker as verlede jaar se matrieks gevaar het.
Matrieks van voorheen benadeelde skole se punte is in 30 vakke opwaarts aangepas, wat kernvakke soos wiskunde, wiskunde geletterdheid, wetenskap, biologie, rekeningkunde, geskiedenis, geografie, inligtingstegnologie en ekonomie insluit. Die ander 29 vakke se rou punte is aanvaar.
Verskeie faktore het volgens Volmink ’n rol gespeel in die slaagsyfer wat gaan daal:
1. Die getal leerlinge wat van gr. 11 na gr. 12 oorgeplaas is, en 9,9% van die groep verteenwoordig wat vanjaar die matriekeksamen geskryf het.
Dit is leerlinge wat reeds in die gr. 10- tot gr.12-fase een keer gedruip het en dus nie weer kan druip nie. Volmink het wel gesê dat daar van hierdie kandidate is wat met onderskeidings geslaag het.
2. Daar is vroeër kritiek uitgespreek teen die “hoë” standaarde van vraestelle vanjaar, het Volmink gesê.
Daar kan aangevoer word dat dit vanjaar te hoog was en dit kan moontlik die geval wees, maar die verslae van alle interne en eksterne moderators is dat die vraestelle nie te moeilik was nie. Hy het beklemtoon dat standaarde nooit verslap moet word om die slaagsyfer op te stoot nie.
3. Leerlinge wat die eksamen afgelê het in ’n taal wat nie hul huistaal is nie. Volgens Volmink was daar leerlinge wat as gevolg hiervan gesukkel het om betyds klaar te maak.
Soos in die verlede was daar vanjaar weer voorvalle van groepkullery – in Gauteng (6), KwaZulu-Natal (12), Limpopo (1) en Mpumalanga (7). Hierdie voorvalle word ondersoek.
Die leerlinge van skole in Limpopo en Gauteng wat betrokke was by die twee wetenskapvraestelle wat uitgelek het, sal ook nie hul uitslae kry nie, hangende ’n ondersoek.